Die Romeinse provinsies (Latyn: provincia, meervoud provinciae) was verowerde gebiede buite die stadstaat Rome en die Italiese kernland wat as administratiewe eenhede in die magsgebied van die Republiek en later die Ryk ingesluit is. Elke provinsie is deur ’n Romein regeer wat as goewerneur aangestel is.
Die Latynse term provincia het oorspronklik na ’n gebied verwys waar ’n magistraat of promagistraat sy bevoegdheid uitgeoefen het, veral militêre kommando’s. Hierdie term is later ook met die betekenis van administrasie van ’n verowerde of geannekseerde gebied gebruik, aangesien dit dikwels met militêre operasies verband gehou het. Dit is eindelik uitgebrei na die administratiewe eenhede self.[1]